Helpende Hand bring ‘n positiewe antwoord op negatiewe statistiek

Geen Suid-Afrikaner het ‘n verslag nodig om oortuig te word van die erns rakende kindermisdaad en kindermishandeling nie. Die inhoud van Solidariteit Helpende Hand se kindermisdaadverslag is skokkend, om die minste te sê. Dit is egter ironies op ‘n manier, dat die persentasies eintlik nie saak maak nie, want die verslag onderstreep of beklemtoon vir ons hele gemeenskap die dringendheid van geleende tyd.  Ons het net ‘n hoeveelheid geleende tyd saam met ons kinders.

Die verslag daag ook ons persepsies of definisies van misdaad en mishandeling uit:  Wie is hierdie “misdadigers” wat ons geleende tyd met ons kinders bedreig?

Die H.A.T. (Verklarende Handwoordboek van die Afrikaanse Taal)  beskryf misdaad as “‘n slegte daad, kriminele handeling of swaar vergryp.”   Mishandeling is “sleg behandel, liggaamlik of geestelik kwaad aandoen, afransel, pynig.”

Solidariteit Helpende Hand se definisie van misdaad en mishandeling strek egter verder as dié van die ‘n woordeboek of landswet, of selfs ‘n verkeerde minimum gesindheid, want –

  • Misdaad beteken ook gebrek aan daad.
  • Mishandeling beteken ook gebrek aan handeling.
  • Niks verkeerd doen nie kan ook wees dat jy net eenvoudig niks doen nie.
  • Jy pynig dalk nie die liggaam nie, maar jy koester en vertroetel dit ook nie.
  • Jy spreek nie harde woorde of verskree jou kind nie, maar jy praat ook nie opbouend en positief met hom/haar nie.
  • Dit gaan nie daaroor om net-net nie verkeerd of sleg te doen nie, maar om juis reg te doen of nog sterker gestel – om daadwerklik goed te doen.